Skip to content
Artwork for Vers en Klank

Vers en Klank

RSG

Voorlesings van gedigte, afgewissel met gepaste musiek.

Play
  • 20 episodes
  • weekly
  • Avg 23 min
  • Afrikaans
  • Tuesday · 23 min

    Vers en klank: Anri Botha en Melanie Grobler

    6 Oktober 2026: Henriëtta Gryffenberg lees voor uit Anri Botha se bundel, Bakeliet. Sy het in 2018 met die bundel Wolfram gedebuteer. In hierdie nuwe bundel gebruik sy bakeliet – die eerste volledig sintetiese plastiek – as ’n uitgebreide metafoor vir die kunsmatigheid van die moderne bestaan. Henriëtta lees ook verse uit Melanie Grobler se nuutste genaamd Alles van waarde is weerloos. Melanie Grobler skryf vanuit die baie persoonlike ervaring van weduweeskap en verlies. Twee vroue, twee uiteenlopende bundels, twee heeltemal verskillende poëtiese stemme – maar albei skryf sonder ’n beskermende laag. En miskien is dit juis die interessantste raakpunt: hulle albei gebruik poësie om dinge wat nie maklik verstaanbaar is nie, te probeer begryp.

  • September 29 · 17 min

    Vers en klank: Vriendskap

    29 September 2026: “Jou vriend is die vervulling van jou behoeftes. Hy is jou akker wat jy met liefde saai en met danksegging maai. En hy is jou maaltyd en jou vuurherd. Want jy kom na hom as jy honger het en jy soek hom vir vrede.” Só skryf Kahlil Gibran in sy boek, Die Profeet, oor vriendskap. Sophia van Taak en Karli Heine verken dié tema. Daar is gedigte deur – onder andere – Antjie Krog, Helena Ewert, Tom Dreyer en Rocco de Villiers.

  • September 22 · 22 min

    Vers en klank: Die expat, Elisabeth Eybers

    22 September 2026: Hierdie episode is spesifiek vir die expats bedoel – daardie Suid-Afrikaners in die buiteland wat sekerlik van tyd tot tyd wonder: Wat het ek nou eintlik hier kom soek? En: Sal ek ooit régtig kan tuis voel in hierdie land? As daar iemand is wat dié gevoel baie goed geken het, dan was dit die digter Elisabeth Eybers. Sy het vir 46 jaar in Suid-Afrika gewoon en daarna vir óók 46 jaar in Nederland. Kom blaai saam met Joanie Combrink deur Eybers se digbundels wat sy in Nederland geskryf het om uit te vind hoe sy as buitestander haar voete daar in die vreemde gevind het.

  • September 15 · 25 min

    Vers en klank: Koorsboom - Jakes Möller

    15 September 2026: Sophia van Taak en Lochner de Kock blaai deur die debuutbundel, Koorsboom. Dis die pennevrug van Jakes Möller, en ’n verrassend sterk eerste versameling – vol deeglike skryfwerk en eksperimente met vaste digvorme soos die haikoe, villanelle, kwatryn en sonnet.

  • September 8 · 24 min

    Vers en klank: Joan Hambidge

    Die digter Joan Hambidge vier op 11e September haar 70ste verjaarsdag. Sophia van Taak hou vir haar ’n partytjie! Die gesprek gaan oor die grootste invloede op Hambidge se skryfwerk, haar gunsteling wêreldstede, wat sy doen wanneer sy saans uitgaan en waarom die Afrikaanse letterkunde met ’n akwarium vergelyk kan word.

  • September 1 · 23 min

    Vers en klank: William Rowland

    1 September 2026: Komende Vrydag is dit Loslitdag. Dan kan die mense wat gewoonlik netjies moet aantrek vir werk, ook ’n slag sommer in jeans en tekkies werk toe gaan. Maar dié dag gaan nie eintlik oor net lekker gemaklik aantrek nie – dit is ’n groot bewusmakingsveldtog waarin die behoeftes van mense wat met gestremdhede saamleef, ’n slag weer onder ons almal se aandag gebring word. Eben Genis lees gedigte voor van William Rowland, wat as klein seuntjie sy sig verloor het. Sy blindheid het hom nooit teruggehou nie. Inteendeel, hy was een van Suid-Afrika se grootste kampvegters vir die regte van gestremdes.

  • August 25 · 25 min

    Vers en klank: Danie Marais - Ek is nie Danie

    25 Augustus 2026: Daar het onlangs ’n bloemlesing van die digter Danie Marais se werk verskyn. Die gedigte vir hierdie versameling, Ek is nie Danie, is só keurig gekies dat dit amper soos ’n lewensverhaal lees, waar elke gedig voortbou op die vorige. Sophia van Taak gesels met Marais oor sy baie persoonlike skryfstyl. Die gedigte is verhalend en soms humoristies of ironies, maar daaronder lê ernstige vrae oor identiteit, skuld, liefde en waar ’n mens behoort.

  • August 18 · 23 min

    Vers en klank: Die skaduwee van siekte

    18 Augustus 2026: Dit is seker een van die moeilikste gedagtes waarmee 'n mens gekonfronteer kan word - dat daar sekere dinge is wat eenvoudig buite jou beheer is. Jy kan byvoorbeeld sommige siektes probeer voorkom deur gesond te eet, meer te oefen en minder te stres. Maar partykeer skuil ’n gróót siekte in jou gene, en maak nie saak wát jy doen nie, dit sal op ’n dag maar net sy verskyning maak. Hierdie soort kwale raak selde net die een wat dit dra. Dit sprei sy skaduwee ook oor geliefdes en vriende. Ons luister na gedigte wat dié rimpels van ’n mediese uitdaging beskryf. Die voorlesers is Erica Wessels en Carel Nel.

  • August 11 · 23 min

    Vers en klank: Mediese mankemente

    11 Augustus 2026: ’n Mediese ondersoek is selde net ’n ondersoek van die liggaam. Dit is ook ’n ondersoek van die gees. Dit vra iets van ’n mens se moed, jou geduld en jou vermoë om met onsekerheid saam te leef. Digters het nog altyd hierdie oomblikke probeer vasvang – die weerloosheid van ’n liggaam wat nie meer heeltemal gehoorsaam is nie; die vreemde taal van mediese terme; die menslike behoefte om sin te maak van lyding... Maar hulle skryf ook oor die humor wat, selfs in ’n spreekkamer, kan opduik. Carel Nel en Erica Wessels doen voorlesings van gedigte oor mediese mankemente.

  • August 4 · 25 min

    Vers en klank: Lina Spies

    4 Augustus 2026: ’n Huldigingsbundel ter ere van die digter Lina Spies het onlangs by Naledi Uitgewers verskyn. Sophia van Taak praat met Alwyn Roux, een van die samestellers en redakteurs van ONTHOU IS DIE DAG WAT BREEK, oor Spies se digterlike nalatenskap, en hoe haar stem vandag steeds relevant is, en jong digters daarmee in gesprek tree.

  • July 28 · 21 min

    Vers en klank: Sondagblues

    Daar is seker nie ’n amptelike diagnose soos Sondagblues-sindroom nie, maar dit is tog ’n algemene ding waarmee baie mense sukkel. Daardie spesifieke soort bedruktheid, ’n swaarmoedigheid wat jou op ’n Sondagnamiddag beetpak. Toemaar, jy’s nie alleen nie. Almal van ons wens dit kan eerder weer Saterdag wees – ons digters ook! Eben Genis lees gedigte voor oor Sondae.

  • July 21 · 24 min

    Vers en klank: Wilhelm Knobel

    21 Julie 2026: Wilhelm Knobel was ’n Sestiger-digter, wie se klein, maar besonder intense oeuvre, die worsteling van ’n hoogs sensitiewe mens met eensaamheid, liefde, geestelike verwarring en die soeke na sin verwoord. Die voorleser, Carel Nel, verken hierdie eenkantmens se introspektiewe, maar baie beeldryke poësie.

  • July 14 · 25 min

    Vers en klank: Vuur

    14 Julie 2026: Vuur is – saam met lug, water en grond – een van die klassieke elemente. Vuur is ook een van die mensdom se grootste ontdekkings. Dink maar net wat alles deesdae moontlik is omdat ’n oermens op ’n dag dit reggekry het om ’n hopie droë gras te laat vonk vat. En dan is daar ook soveel simboliek aan vuur: Vir party mense verteenwoordig dit kreatiwiteit en hoop; Dit word ook geassosieer met kennis, inspirasie, spirituele reiniging en transformasie. Al hierdie kenmerke van vuur en lig is ter sprake saam met voorleser Erica Wessels.

  • July 7 · 23 min

    Vers en klank: SJ Pretorius

    7 Julie 2026: Die digter, SJ Pretorius, was veral bekend vir sy belangstelling in die gepynigde randfigure, die verstotenes in die krotbuurte. Hy’t ’n sagte plekke gehad vir die underdogs, die verskoppelinge. Hy was ook lief daarvoor om met die hoër klasse se maniertjies en oortuigings die draak te steek. Voorleser Johann Nel verken dié digter se deernisvolle skryfwerk oor mense wat nie oor mag of status beskik nie, en maklik misgekyk word.

  • June 30 · 24 min

    Vers en klank: Tom Dreyer - BRIEF OP VEERTIGDUISEND VOET

    30 Junie 2026: Tom Dreyer se tweede digbundel, BRIEF OP VEERTIGDUISEND VOET, het vroeër vanjaar by Queillerie Uitgewers verskyn. Sophia van Taak gesels met hom oor die genot van dieper delf in die wetenskap, om dinge óóp te skryf, ’n boerbok op Bloubergstrand, die vele Nederlandse name vir ’n skoenlapper, en die antieke Persiese Ryk.

  • June 23 · 24 min

    Vers en klank: Vrugte

    Vrugte is so ’n alledaagse ding. Daar’s maar altyd ’n paar appels of piesangs of nartjies in die huis. En met dié dat vars produkte van oraloor ingevoer word, kom ’n mens ook nie altyd agter dat vrugte seisoenaal is nie, want daar is altyd iets van alles op die winkelrak. Voorleser Susanne Beyers bekyk allerlei vrugtesoorte ’n slag ordentlik, want vrugte is eintlik wonderlike goed: Die smake, teksture, kleure... die verskeidenheid!

  • June 16 · 26 min

    Vers en klank: NP van Wyk Louw – RAKA (Deel 2)

    16 Junie 2026: Die digter NP van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 gebore, en op 18 Junie 1970 oorlede. Hy was ’n groot gees van die Dertiger-beweging. Met sy groot tegniese vaardigheid, sterk beelde en oorspronklike taalgebruik, het Louw ons letterkunde verryk én as’t ware gemoderniseer. Ons herdenk dié reus van die Afrikaanse letterkunde met sy grootste werk – RAKA. Susanne Beyers en Johann Nel is die voorlesers uit dié aangrypende epos.

  • June 9 · 26 min

    Vers en klank: NP van Wyk Louw – RAKA (Deel 1)

    9 Junie 2026: Die digter NP van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 gebore, en op 18 Junie 1970 oorlede. Hy was ’n groot gees van die Dertiger-beweging. Met sy groot tegniese vaardigheid, sterk beelde en oorspronklike taalgebruik, het Louw ons letterkunde verryk én as’t ware gemoderniseer. Ons herdenk dié reus van die Afrikaanse letterkunde met sy grootste werk – RAKA. Susanne Beyers en Johann Nel is die voorlesers uit dié aangrypende epos.

  • June 2 · 24 min

    Vers en klank: Bome

    2 Junie 2026: Dit is baie gesond vir ’n mens – veral vir jou siel – om gereeld deur ’n woud te stap of vir ’n ruk onder ’n groot boom te sit. Dis gewoonlik lekker koel daar, die lug is skoner en klanke is meer gedemp. Studies het ook al gewys dat die kleur groen jou brein help om van die tamheid van gedurige konsentrasie te herstel. Pieter van Zyl se gedigvoorlesings lei ons na plekke met baie bome. Laat die woudreuse se teenwoordigheid jou lawe.

  • May 26 · 24 min

    Vers en klank: Jennifer Pape

    26 Mei 2026: Sophia Kapp praat met Jennifer Pape oor haar eerste digbundel, Waar daar eens ’n see was, wat by Turksvy Uitgewers verskyn het. Met ’n agtergrond in geologie, delf Jennifer graag in die oerverlede en die natuurwetenskappe. Haar skryfstyl is ’n heerlike vermenging van feite en verdigsels, wetenskap en verbeelding.

Showing 1–20 of 20 episodes